89 mense steeds vermis in Spanje
Minstens 89 mense word steeds vermis ná dodelike vloede in die ooste van Spanje, volgens streekregtelike owerhede in Valencia. Dit sluit slegs diegene in wat deur familielede as vermis aangemeld is. Minstens 217 mense is in Valencia, Castilië-La Mancha en Andalusië dood, maar net 133 is tot dusver geïdentifiseer. Spanje se eerste minister, Pedro Sánchez, het 10,6 miljard euro beloof om slagoffers te help. Meer as 100 000 motors is deur die vloede beskadig, terwyl skade aan besighede in dorpe wat deur vloede getref is tot meer as 10 miljard euro kan styg.