Saak van strafbare manslag na dodelike duin-ongeluk
Die Namibiese polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag na die dood van die 13-jarige Pashula Hangula in die omgewing van Duin 7 naby Walvisbaai, Saterdagmiddag omstreeks half-twee. Die voertuig, ‘n bakkie, het gepoog om teen ‘n hoë duin uit te ry en het vasgeval. In die 21-jarige bestuurder se pogings om die voertuig uit die sand te kry, het die bakkie in die los sand begin gly en teen die hoë duin verskeie kere afgerol. Hangula is uit die motor geslinger. Daar was vyf passasiers in die voertuig en ‘n verdere drie is beseer in die ongeluk. Lede van die publiek word gewaarsku om uiters versgtig op die duine te ry. ‘n Waarskuwing is ook uitgereik om nie beeldmateriaal van ongelukke op sosiale media te deel wat aanstoot gee nie en ook nie enige materiaal wat betrokkenes kan identifiseer nie, veral omdat naasbestaandes moontlik nie ingelig is nie.
Leave a Reply