Liggaam van drenkeling ná 22 dae in Oranjerivier gevind
Die Namibiese polisie by Aussenkehr het die liggaam van die 40-jarige man gekry wat vermoedelik middel Julie in die Oranjerivier verdrink het. NamPol se koördineerder vir misdaadondersoeke in die Karas-streek, adjunk-kommissaris Nikodemus Mbango, het vandag bevestig dat die liggaam van Mikel Muyambo Shingereshu ná ‘n 22 dae lange soektog met die hulp van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gevind is. Shingereshu en sy vriendin het op 15 Julie peule van ‘n boom langs die Oranjerivier gaan haal. Terwyl sy vriendin en kinders langs die rivier gewag het, het die man 16 sakke peule in ‘n kano gelaai. Op pad terug het die kano in die middel van die rivier omgeslaan en die man het om hulp geskree, maar het glo verdrink. Mbango sê die oorledene se oorskot sal na die Keetmanshoop-polisielykshuis geneem word vir ‘n nadoodse ondersoek. Die oorledene se naasbestaandes is ingelig en polisieondersoek duur voort.
Leave a Reply