NRU betoon medelye na dood van Reho Falcons-lede
Die Namibiese Rugby-unie het sy diepe meegevoel betuig met die families van die vier mans wat in ‘n gru-ongeluk buite Rehoboth gesterf het. Ettienne Coetzee, 48, die voorsitter van die Reho Falcons Rugby-klub, sy seuns Edmando, die kaptein van die span en Ethan, ‘n spanlid, en nog ‘n spanlid, Greschlinn Bruwer, is op slag dood. Volgens die polisieverslag het die maroen Audi Q7 waarin hulle van Windhoek na Rehoboth gereis het, 10km voor die dorp met ‘n koei in die pad gebots. Die bestuurder, Ettienne Coetzee, het beheer oor die kar verloor, wat toe met ‘n vragmotor en ‘n wit Volkswagen Tiquan wat in die teenoorgestelde rigting gereis het, gebots het. Al die insittendes van die Audi is uit die voertuig geslinger en vier is op slag dood. ‘n 48-jarige vrou en 10-jaar-oue seun is ernstig beseer en na die St. Mary’s-hospitaal gehaas vir behandeling. Die bestuurders van die vragmotor en die Tiquan is nie beseer nie, maar is vir skok behandel.
Leave a Reply