Reën val mildelik, nog op pad
Verslae oor reënval word van meeste dele van die land gekry. Vooruitsigte vir meer reën in die volgende 48 uur is uiters positief, met ook dele van die dorre suide wat neerslae kan verwag. By die Von Bachdam buite Okahandja is op twee agtereenvolgende dae 51mm gemeet. Die Okamitarivier vloei ook sterk op pad na die Okahandja- en Swakopriviere, wat in die Swakoppoortdam inloop. Die klein Kamrivier het ook water en Dawie de Klerk, voorsitter van die Hardap Boerevereniging, sê dit kan die Hardapdam bereik maar hy sal verbaas wees as dit gebeur. Dit is weens talle kuile in die Kam wat eers moet volloop. Dit is nog nie bekend hoeveel dit in die dam se opvanggebied gereën het nie.