Rusland sê DNS bewys Prigozhin is dood
Russiese owerhede sê DNS-toetse het bevestig dat die hoof van die Wagner-huursoldategroep, Yevgeny Prigozhin, in verlede Woensdag se vliegongeluk dood is. Die ondersoekkomitee sê die identiteite van al tien slagoffers is vasgestel, en dit stem ooreen met die amptelike lys van passasiers op die vlug. Dmitry Utkin, Prigozhin se regterhand wat hom gehelp het om die Wagner-groep te stig, is ook een van die slagoffers. Prigozhin se privaat vliegtuig het noordwes van Moskou neergestort. Die Russiese regering ontken ten sterkste dat hy by die voorval betrokke was. Intussen het President Vladimir Putin ‘n verpligte lojaliteits-eed ingestel vir vrywillige vegters van die Wagner-groep en ander privaat militêre kontrakteurs. Die pas-uitgereikte bevel vereis van alle individue wat namens Rusland betrokke is by militêre bedrywighede, óf wat militêre operasies steun, veral in Oekraïne, om amptelik die eed af te lê.
Leave a Reply