SA sokker se legendariese Lucas Moripe sterf
Sokker: Die sokkergemeenskap betreur die dood van die voormalige voorspeler van Orlando Pirates, Lucas Moripe. Die 71-jarige legende, wie se bynaam “Masterpieces” was, is in sy huis in Atteridgeville oorlede. Hy was die laaste jare aan ‘n rolstoel gebonde na ʼn beroerte. Moripe was ʼn pionier in Suid-Afrikaanse sokker en word oor die algemeen beskou as een van Suid-Afrika se beste spelers. Hy het tydens die goue era van Suid-Afrikaanse sokker in die 1970’s bekend geword. Die Atteridgeville Super-stadion is in 2010 hernoem na die Lucas Moripe Masterpieces-stadion.