Veediefstal lei tot wêreldwye petisie om stropers borg te weier
Veediefstal en -stroping het die afgelope jaar hand oor hand toegeneem, met ‘n groot eskalasie in die aantal voorvalle en die aantal diere wat dwarsoor die land gesteel of gestroop word. ‘n Groep van vier vermeende vee-stropers is op 7 September deur die Otjiwarongo buurtpatrollie teenstropingseenheid, die Kyani-veiligheidsgroep en die Kalkveld-boerevereniging met bystand van die Namibiese polisie op die B1-pad na Omaruru vasgetrek. Die spesifieke stropers word al maande lank gemonitor en is na bewering by talle gevalle van veediefstal en stropery betrokke. Die teenstropingsliggame het ‘n petisie begin op Avaaz, ‘n wêreldwye veldtog-organisasie, om te probeer verhoed dat die verdagtes op borgtog vrygelaat word want hulle sal net weer oortree. Hulle sê dit is tyd om Namibiese boere, boerderygemeenskappe en algemene voedselsekerheid in die land te beskerm. Vierhonderd-en-twee mense het reeds die petisie onderteken en wanneer dit 500 handtekeninge bereik, sal dit na verwagting aan die plaaslike justisie-owerhede oorhandig word.
Leave a Reply