Veldbrande woed voort in Algerië
Minstens 34 mense is reeds dood in veldbrande in Algerië. Die brande aan die kus van die Middellandse See woed sedert Maandag, en gedeeltes is onder beheer. Die brande woed egter nog in agt streke en sowat 8 000 brandbestryders is ontplooi. Tien van die 34 slagoffers van die brande was soldate. Weens die sterk wind het die brand na Tunisië versprei waar temperature van 49 grade Celsius in verskeie stede aangemeld is. Aan die ander kant van die Middellandse See woed verwoestende veldbrande ook steeds in Griekeland waar toeriste onder meer by Rhodos en Corfu na veiligheid geneem moes word. Rekordhoë temperature kom op verskeie plekke wêreldwyd voor, insluitend China, die VSA, die suide van Europa en die noorde van Afrika.
Leave a Reply