Vreemde gedrag, ‘massahisterie’, by nog ‘n skool
Die onderwysministerie ondersoek berigte van leerders wat flou geword het en onsamehangend praat by die Amateta Gekombineerde Skool in die Oshikoto-streek naby Onankali. Tot dusver het 18 kinders die gedrag getoon wat voorkom soos ‘n massahisterie. In die jongste voorval het vier leerders glo inmekaargesak en op die grond begin rondrol terwyl hulle op skool was. Die skoolhoof, Martin Namushinga, sê die voorvalle het in Augustus begin voorkom, maar was die prominentste tydens eksamens, wat meestal graad 9-leerders geraak het. Soortgelyke vreemde voorvalle is al voorheen by skole elders in die land aangemeld met die mees onlangse geval by Eros Laerskool in die hoofstad.
Leave a Reply